Nederduitse Gereformeerde Kerk

Lichtenburg

Tuisblad

Die ontstaan en eerste 100 jaar

nuwe embleemNadat die dorp Lichtenburg op 25 Julie 1873 deur Hendrik Greeff gestig is, was inwoners van die dorp en die groter Noordwes-Transvaal-omgewing lidmate van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente van Potchefstroom, wat reeds in 1842 gestig is. Die eerste kerkgeboutjie in Lichtenburg is in 1878 op die Kerkplein, suid van Gerrit Maritzstraat waar die ouetehuis vandag staan, gebou. Dit was ʼn klein reghoekige geboutjie met klipmure, ʼn dak van gegolfde ysterplaat en ʼn grondvloer.

Namate Lichtenburg uitgebrei het, het die behoefte aan ʼn eie gemeente in die dorp toegeneem en op 10 Junie 1885 word die Nederduits Gereformeerde Gemeente van Lichtenburg gestig. Die Gemeente se eerste pastorie is in Oktober 1886 voltooi en op 22 April 1887 word ds HJL du Toit van Potchefstroom as eerste permanente leraar van die Gemeente bevestig.

ʼn Groot eer het die Gemeente te beurt geval toe president Paul Kruger in 1890 ʼn diens in die ou  kerkgeboutjie gelei het. Die legendariese generaal Koos de la Rey se stoflike oorskot het ook in hierdie geboutjie in staatsie gelê.

Op 14 Junie 1890 is die hoeksteen van die nuwe en huidige kerkgebou deur ds Du Toit gelê en in Januarie 1891 word die nuwe kerkgebou ingewy. Die eerste ou kerkie is na ingebruikneming van die nuwe kerkgebou as eerste goewermentskool in Lichtenburg en ook as kerksaal vir vergaderings en tydens basaars gebruik. Gedurende 1926 is hierdie kerkgeboutjie afgebreek en die skrootmateriaal is verkoop. Die opbrengs is in die boufonds vir ʼn nuwe kerksaal gestort.

Uitbreidings aan die kerkgebou

Voor die Anglo-Boereoorlog was die tweede kerkgebou ʼn leë ruimte en die gemeentelede moes elkeen ʼn eie stoel voorsien. Met die uitbreek van die oorlog is die Gemeente se werksaamhede toe vir drie jaar en drie maande gestaak. In dié tydperk is die kerkgebou deur die Britse soldate as woonkwartiere gebruik en die leraar was weggevoer as krygsgevangene. Sy vrou en kinders moes die pastorie ontruim om Britse offisiere te huisves.

Na afloop van die oorlog is besluit om die kerkgebou met lampe, ʼn kerkklok en 600 stoele toe te rus. In 1917 is die lampe in die kerk met elektriese ligte wat van ʼn eie kragopwekker gebruik gemaak het, vervang.

In 1913 is besluit om drie galerye aan te bring, omdat die kerk met nagmaal te klein was om almal te huisves. Die projek is in 1914 afgehandel en die galerye is met die Paasfees van 1914 ingewy. Die galerye was donker en die ventilasie was swak, maar die getal sitplekke is met bykans 50% vermeerder.

ʼn Nuwe kerksaal

Nadat die eerste ou kerkgeboutjie gesloop is, was daar ʼn dringende behoefte aan ʼn nuwe kerksaal. Ten spyte van die moeilike finansiële situasie waarin die Gemeente verkeer het, is besluit om in afwagting van die verkoop van die plaas Kaalbult voort te gaan met die oprigting van ʼn nuwe kerksaal. Die nuwe saal is op 1 April 1927 ingewy en het, ten spyte van vertoë in latere jare om dit te sloop en te vervang, in sy oorspronklike vorm behoue gebly. Gerhard Moerdyk, wat ʼn dekade of twee later die Voortrekker-monument sou ontwerp, was die argitek.

motors_voor_klipkerkNadat die Gemeente in 1927 die plaas Kaalbult verkoop het, is besluit om die bestaande kerkgebou te verfraai. Gerhard Moerdyk is weer as argitek aangestel en die veranderinge het ʼn toring, nuwe plafonne en ʼn nuwe vleuel vir die konsistorie met ʼn orrelgalery bo-oor behels. Twee van die drie galerye se gebrek aan lig is opgelos met die inbou van ʼn groot ronde roosvenster in elke gewel. Die ou konsistorie is gesloop om plek te maak vir die nuwe vleuel en portaaltjies is by die noordelike en westelike ingange aangebring.

Lidmaatgetalle en afstigtings

In 1885 was die lidmaattal minder as 300. Dit was dus voordelig om die grense so ruim as moontlik te behou. As gevolg van groot gesinne en die vestiging van nuwe intrekkers in die yl bevolkte gebied, het die sieletal in 1891 na 1 752 (733 belydend) gestyg en na 1 909 (754 belydend) in 1897. Na die beëindiging van die Anglo-Boereoorlog in 1903, was die sieletal 2 464 (1 070 belydend).

Hierna het daar verskeie gemeente-afstigtings plaasgevind. Die eerste gemeente wat afgestig het, was Delareyville (1912), waarna Ottosdal (1913), Coligny (1914), Sannieshof (1929), Lichtenburg-Wes (1950) en Lichtenburg-Oos (1952) gevolg het. Verdere afstigtings het by van hierdie afgestigte gemeentes plaasgevind.

Die afstigtings het tot gevolg gehad dat die Lichtenburg Moedergemeente se grense drasties gekrimp het. Ten spyte hiervan het die sieletal voortdurend gestyg. In 1941 staan die sieletal op 4 006 (2 105 belydend), hoofsaaklik as gevolg van die delwery-aktiwiteite by Bakerville. Hierna het die getal weer gedaal maar in 1979 het die sieletal weer op 1 440 (950 belydend) gestaan en is die Gemeente deur twee leraars bedien.

Verdere bouprojekte

ou_foto_van_kerkgebouDie eerste kategese-Iokale, wat inskakel by die bestaande saal se voorkoms, gewelpatroon en afwerkings, is in 1976 gebou. Die tweede kompleks met kategese-Iokale word in 1980 in gebruik geneem en is ook aangepas om tydens die Gemeente-basaars gebruik te word. Op 31 Julie 1981 word die Klipkerk-gebou tot Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar. Die kerkgebou is in hierdie tyd verder vergroot deur die konsistorie te vergroot en ʼn nuwe moederskamer aan te bou. Hierdie aanbouings is in Januarie 1982 ingewy.

Die rol van die vrou

In 1950 word ʼn tak van die Bond van Dienaresse in die Gemeente gestig, met die doel om die vroue in die Gemeente in ʼn georganiseerde eenheid saam te bind. Die Bond van Dienaresse is in die sewentigerjare ontbind en met die Vrouediens vervang. Benewens die rol van vroue in die Vrouediens, speel vroue later ook ʼn al hoe groter rol as diakens en ouderlinge. Die eerste vroue-diakens is in 1984 op die kerkraad bevestig en ʼn bietjie later het die ouderlingsamp gevolg.

Jeugaksies

Die Kinderkrans is aanvanklik in 1911 as ʼn vereniging uit die CSV gebore. In die

sewentigerjare is daar egter landswyd wegbeweeg van ʼn vereniging na ʼn jeugaksie (die JKJA). Die benaming was egter so gevestig en geliefd dat dit jare daarna nog voortgeleef het. In 1985 was daar ongeveer tagtig kinders by die Kinderkrans van die Gemeente betrokke. Omdat die standerd vyf-kind nie met sukses in een van die jeuggroepe geakkommodeer kon word nie, is ʼn Aksie 5-groep in 1983 deur die Gemeente in die lewe geroep.

Gedurende die laat tagtigerjare en vroeë 90's het die jeugbediening rondom JKJA en kategese gedraai wat direk na die eredienste gehou is en Vrydagaande was daar ʼn koffiekamer. In 1997 het die JKJA onder leiding van Carlin Malan met nuwe ywer en entoesiasme onder die voorskoolse en laerskoolmaats begin werk. Dit was ook in hierdie tyd wat daar op ʼn gereelde basis begin is om die laerskoolkinders by wyse van ʼn kinderdiens in die kerksaal te bedien. Dit sou mettertyd ontwikkel in die "Klippiekerk" soos ons dit vandag ken.

Sending

In 1908 beroep die Gemeente sy eerste sendeling, eerwaarde CA Roode. In 1914 word eerwaarde Roode as sendeling na Portugees-Oos-Afrika gestuur, maar in 1916 ontvang hy sy ontslag weens die moeilike omstandighede in die gebied waar hy geplaas is. Op 6 Mei 1917 word eerwaarde Roode weer as plaaslike sendeling in die Gemeente bevestig.

Tydens die toeloop van tienduisende swart mense na die delwerye in die 1920's en 1930's, het die Gemeente hierdie mense onder moeilike omstandighede bedien. In 1928 het die Gemeente ʼn eie evangelis, te wete AZ Mokuele, daar gevestig. Die gemeenteleraar het self ook vir die swart mense dienste gehou en huwelike voltrek. In 1933 word eerwaarde J de Beer as ringsendeling vir die bediening van swart mense georden. Mettertyd het daar ook eie swart- en bruingemeentes, wat deur die verskillende Nederduits Gereformeerde gemeentes van Lichtenburg en Biesiesvlei ondersteun is, in die Lichtenburg-gebied tot stand gekom.

Nog ʼn belangrike ontwikkeling van die Gemeente op sendinggebied, was die oprigting en bedryf van die Bybelkiosk by die busterminus vanaf 1979. Vanuit die kiosk is die evangelie op verskeie maniere  bedien.

Sendingvisie word uitgebou

botsw gr8 060Sam Salva Raj, ʼn leraar van Indië, het die Klipkerk in 1995 besoek en oor die Jesusfilm gepraat wat effektief as evangelisasiemiddel in Sri-Lanka gebruik word. In dieselfde week daarna nog is die Jesusfilm-span gestig wat in die omgewing begin uitreik het. Die filmspan het later ook na Botswana uitgereik in die nedersetting Leporung. Dit is ook hier waar ʼn gemeente ʼn ruk later geplant is.

Ander sendingaksies van die gemeente sluit in die Amos-projek onder plaaswerkers, die Taxi-bediening, die Noordwes-uitreik en die Wereldfokusweek. Dié week word deur die meeste sendelinge van die Gemeente bygewoon en hulle kry dan die geleentheid om terugvoer te gee oor hul werksaamhede. Dan is daar ook die EE111-kliniek waar gewone lidmate oor ʼn tydperk van 16 weke opgelei en toegerus word om die evangelie met ander te deel.

Gebedslewe in die Gemeente

Aan die begin van die afgelope kwarteeu, toe di Theo Pienaar en Harold Hutton die leraars in die Gemeente was, is daar voortdurend gebid vir herlewing in die Gemeente. Reeds in die tyd van ds Eddie Botha is met ʼn gebedsaksie, genaamd "Saambid op pad werk toe", begin. Daar is getrou elke weeksdag voor werk deur die leraars en verskeie gemeentelede gebid.

Gebed het deel van die DNA van die Klipkerk-gemeente geword en toe ds Willem Badenhorst een aand oor die krag van gebed preek en ʼn uitnodiging rig dat lidmate deel kon vorm van ʼn gebedsdrieling het daar daardie aand nege gebedsdrielinge tot stand gekom. Elke gebedsdrieling het uit drie mense bestaan wat een maal per week vir ʼn uur saamkom om te bid. Die Gemeente het ook ʼn kettinggebedaksie begin wat bestaan uit die gebedsdrielinggroepe en enkelbidders wat die behoefte het om vir gemeentelede in nood of krisisse te bid. Wanneer nood of krisis ontstaan, word die ketting deur die gebedskoördineerder geaktiveer.

Kleingroepe

Ds. Badenhorst en sy vrou het verskeie gemeentevernuwingseminare by die Moreletapark-gemeente in Pretoria bygewoon, waarna hulle besluit het om ʼn omgeegroep te begin. Die eerste omgeegroep het vermenigvuldig en nog ʼn paar omgeegroepe het die lig gesien. Die selgemeentes het gegroei totdat ongeveer ʼn derde van die Gemeente later by kleingroepe ingeskakel was.

Herlewing in die Gemeente

Gemeentelede van die Klipkerk het aan die begin van die negentigerjare ernstig begin hunker na ʼn dieper werking van die Heilige Gees in hul lewens. In Januarie 1995 het die Gemeente ʼn naweek vir gebed afgesonder om hierdie behoefte voor God te lê. Bykans ʼn honderd lidmate het die naweek by die Polly de la Rey-kampterrein naby Lichtenburg saamgetrek, waar dr Willie McCloud die geleentheid gelei het. Ná hierdie naweek het daar ʼn geestelike opgewondenheid onder gemeentelede ontstaan en ʼn herlewingsbiduurgeleentheid is op Woensdagaande begin. In dié tyd het die Gemeente ook besluit om ʼn herlewingskongres vir September 1995 te reël en mense kon nie stilbly oor dit wat die Here in hul lewens doen nie.

Aan die einde van 2005 het di Badenhorst en Marius De Beer leiding ontvang om die boek "Purpose Driven Life" van Rick Warren in die Gemeente te laat deurwerk deur middel van ʼn 40 dae lange veldtog. Die G40-aksie sou vir die volgende drie jaar, onder leiding van die Heilige Gees, die vuur en hartklop van die Gemeente word.

 'n Vollediger weergawe oor ons geskiedenis kan gelees word in ons Gedenkblaaie.  Die Gedenkblaaie is te koop by ons kerkkantoor teen R100 elk.